Besig om te laai .........

 WELKOM IN MERWEVILLE

Merweville

MERWEVILLE

Merweville is nog een van die min dorpe in Suid Afrika wat nog tradisioneel platteland is.  Hier is nie enige Mall’s en KFC’s en sulke plekke nie.  Hier is die lewe rustig en stil. Merweville is geleë in die Koup en maklik bereikbaar per, 45km puik teerpad, vanaf die afdraai N1 by Prins Albert Stasie.  Soos mens oor die laaste bult ry verskyn Merweville onderkant  met die groot toring van die NG Kerk wat prominent uitstaan.

Die dorp bied verkeie verblyf opsies met gastehuise en ‘n karavaanpark wat beskikbaar is.  Soos genoem is daar nie wegneem eetplekke nie en ook nie enige restaurant nie maar sou u ‘n groep wees kan u gerus by die Muller Kafee in die hoofstraat navraag doen omtrent etes by Tries se Skuur.  Joubert se slaghuis op die dorp voorsien gehalte Koup produkte en ‘n rustige braai is waarskynlik wat u op Merweville sal verkies.

Besoek gerus Muller se Kafee en Du Plessis Algemene Handelaar, dit is ‘n ou wereld belewenis.  Binne in die Algemene Handelaar is ‘n ABSA ATM asook ‘n Posagentskap beskikbaar.  Daar is ‘n Drankwinkel in die dorp, daar naby die Polisiestasie.

Brandstof, petrol en diesel, is gedurende gewone besigheidsure is op die dorp, by Victor se Garage beskikbaar.

Neem kennis dat op Merweville daar nie ‘n dokter of apteek is nie, daar ‘n wel ‘n kliniek wat van hulp kan wees .  Op Merweville is wel ‘n Polisiestasie en die parsoneel doen goeie werk.

Besoek die Kerkkantoor by die saal langs die kerk en maak kontak met die NG Kerk se Koster om toegang te kry gedurende die week.  Dit is ‘n pragtige struktuur en die orrel iets om te aanskou.  Vra of julle in die kerktoring kan opklim, dit is ‘n besondere belewenis en uitsig vandaar.

In die aande is daar geen vermaak op Merweville nie, jammer vir die tieners maar gaan staan buite en aanskou die sterrehemel soos wat u dit lanklaas gesien het.

Daar is geen aanwysings na die verskillende plekke gegee nie, Merweville is so klein en verdwaal nie moontlik nie, een straat op, oor die rivier, anderkant af en al die plekke is gevind.

Die Boekklub

Onlangs is twee reekse van Kyknet se TV reeks "Die Boekklub" op Merweville verfilm. Dit was 'n groot opgewondenheid op die dorp en nou weet die hele Suid-Afrika van Merweville.  Nie dat die inwoners teveel van hierdie pubilisiteit hou nie want hulle verkies dat Merweville maar net Merweville bly.  Ongeskonde outydse plattelands.

Nogtans wonder die inwoners tog of daar nog 'n reeks gemaak gaan word, die opwinding van akteurs en kameras was tog lekker.