Besig om te laai .........

MERWEVILLE TEERPAD 

Die opgradering van die pad tussen Merweville en Prins Albertweg is al 'n hele aantal jare aan die gang en onlangs is die laaste stuk voltooi.

Vandag, 7 Augustus 2015, was die amptelike opening van die teerpad wat waargeneem was deur minister Donald Grant.

Vir die Merweville mense beteken dit baie in die sin van minder pap wiele, effe gouer die afstand ry, en die moonltikheid dat meer mense hulle dorp sal besoek en so hierdie klein karoo dorpie sal help voortbestaan.

Vir die Merweville besoekers beteken dit 'n lekker gemaklike stofvrye rit tot op die beste plek op aarde - MERWEVILLE

Foto: Marlene Malan - "Prins Albert Friend"

 

Foto: Marlene Malan - "Prins Albert Friend"

DIE TEERPAD  

Swart streep van suiwer genade

vleg deur dorre, droeë Karoo aarde

slurp kilometers op soos ‘n slang

geen stof wat in die lug meer hang.

 

Maar wie wil nou oor ‘n teerpad praat?

dis tog maar net nog ‘n straat

“Moenie glo nie!”sê die wat weet

‘n teerpad is baie meer bloed en sweet.

 

Deur harde klipbank moet jy breek

hoë walle netjies afsteek

laag op laag grond en klip

totdat jy in stof en damp verstik.

 

Vragmotors ry eindeloos heen en weer

vragte klip en sand op ‘n keer

waterlorries suig dors druppels op

en stort dit uit oor rant en kop.

 

Glad en stewig moet dit wees

instruksies word daagliks voorgelees

“Kap daardie stuk maar weer op”

die ingenieur kon jy toe nie fop.

 

Gelydelik neem die pad vorm aan

sy weg deur ruwe veld gebaan

waar eens net bos en rante was

is nou ‘n pad wat netjies pas.

 

Swart, warm teer drup genadeloos

op fyn sand en klippies broos

dan smelt alles saam ineen

vorm ‘n kors so hard soos steen.

 

Verlangend kyk ons dié verbode vrug

grondpad ry ons steeds tot by die brug

ongeduldig soos kinders bly ons wag

op hierdie baie, baie spesiale dag.

 

Die boodskap kom per sms

laat agtermiddag net voor ses

“Hoera vir Merweville, ons bly bo

die pad is oop, dit moet julle glo.

 

‘n Blydskap diep en ongekend

Die grondpadlyding is op ‘n end

Net teerpad gaan ons van nou af ry

Voertuig en eienaar is ewe bly.

 

O, teerpad, teerpad, nuwe liefde van my

dankbaar sal ek jou ewig bly

want nou kom baie meer mense hier

om saam met ons Dankfees te vier.

Esther Fourie

Koupos – Dankfees Uitgawe

Julie 2015