Besig om te laai .........

KAROO MENSE EN HUL DINGE: 
Ek het groot geword in die Noord-Kaap van daardie dae. Weet nie regtig wat die provinsie vandag genoem word nie. Met rugby het ons geskree vir Griekwas, en ons het in 1970 die Curriebeker gewen. Iets wat nie enige span al kon regkry nie. So ‘n klein plekkie in die Karoo het sy eie kultuur. ‘n Kultuur van kerkbasaars, groot skolesport dae, verskeidenheiskonserte en skou. Dit was van die algemeenste hoogtepunte in die jaar. Verder was daar partytjies en danse en ‘n oor en weer gekuiery.

Daar was in my kinderdae heelwat afskeidgeselighede want mense het graag weggegaan. As nuwe mense gekom het, ‘n bankbestuurder, poslisiesersant, ‘n nuwe posmeester, predikant, skoolhoof, dokter of landros, dan hoor ons vooraf uit hoeveel kinders hy het, want die getalle by die skool was altyd van belang. Hoe meer kinders hy het, hoe gewilder is sy koms. Ons haal ons kisklere uit en onthaal die nuwelinge in ons kerksaal en al ons organisasies bring by voorbaat hulde aan die nuwe intrekkers. Ons bekyk hulle dan onderlangs en wonder hoe lank hulle gaan hou. Hoe lank sal hulle met ons onstuimige westewinde en broeikastydperk Desember-Februarie tevrede wees. Hoe lank sal hulle ons stil naweke kan verduur? Ons het nie berge of plesieroorde of buiteklubs of ‘n see waarheen jy gou kan ry nie.

Lyk dit die nuwelinge wil aanpas, gaan ons harte en hande vir hulle oop. Ons lyf dadelik die man by ons tennis- of gholf- of rolbalklub in. Ons maak hom selfs lid van die boereverening as hy nie omgee nie, en op die skou of boeresport laat ons hom toutrek. Die vroutjie word dadelik lid van die V.L.V., of sy nou ‘n pannekoek kan omkeer of nie. Ons stuur haar vir die kerkkoor van tannie Willemien en ons bid maar dit reen gou sodat sy haar hare met ‘n bietjie reenwater kan was. Ons water is hard en dit skuim nie. As ons hulle aanneem, dan neem ons hulle aan. Wat ons het, deel ons met hulle. ‘n Vet slagskaap, ‘n mandjie vye of perskes of hoendereiers van die plaas af, ‘n boerpampoen en springbokboud. Ons nooi hulle na ons plase en wys hulle hoe ver ‘n mens in die wereld kan sien, beduie wie waar woon, wys hulle ons beste Dorpers of Brahmane, en ons Sprinbokke. Vir die van hulle wat nie gou aanpas nie, sê ons: Goodbaai en dankie vir die traai. Laat die wind jou verder waai.

En ek moet se, predikante het nogal gou gekom en gaan. En sommer ‘n hele paar het op daardie plaasgemeenskap en Karoo dorpie besluit dat kerkwerk vir ‘n lewe nie verder vir hulle is nie. Dis asof hulle wou se: As dit is wat nog vir baie jare voorle, dan gaan doen ek eerder iets anders. Oor die pastorie kan hulle nie kla nie. Jy kan met ‘n fiets in sy gange af ry en jy sal kan omdraai op die onderpunt en weer terug ry. Die hoofslaapkamer is ‘n saal in vergelyking met vandag se stads huise. Gewoonlik een van die “grandste” huise op die dorp met n halwe rugbyveld vir ‘n grasperk in die voortuin.

Spasie het ons baie. Daar is plek. Baie plek. As ons jou aanvaar het, dan was ons harte ook so. Baie spasie vir jou. Plek, ja baie plek. En as jy eers ons spasie in jou hart laat kom het, dan gaan jy moeilik weer hier weg. Dan raak dit ook jou wereld die. Jou plek, jou spasie. En dan begrawe ons jou hier.