Besig om te laai .........

OM TE JAG IN DIE KAROO:

Jag is ‘n geleentheid. Een van die uitstaande events op n plaaskalender vir ‘n jaar. Nie dat daar ‘n kalender op ‘n plaas is nie. Alles gebeur maar net. En nie dat dit onordelik is nie. Boerdery lyk soms onordelik, maar daar is tog orde. Om te boer is om probleme op te los. Life is a series of problems. Dit weet 'n boer beslis.

Terug by die jagveld. Iets waarna almal uitsien en wanneer dit klaar is, waaroor almal praat. Ons het gewoonlik springbokke geskiet. Sommer klomp op een dag want daar was baie. Ons is nie almal goeie skuts nie, maar die opwinding en adrenalien maak dat jy daar is. My pa het ons dan afgelaai op die hoeke van die springbok kamp wat redelik groot was. Dan het hy twee perderuiters ingestuur om die bokke so bietjie aan te jaag nou jou kant toe. Op so n jag-dag speel die wind natuurlik n baie belangrike rol. Dis koud, want daar word net in die winter gejag. Jy is warm aangetrek. Gewoonlik trek jy van jou oudste klere aan vir hierdie dag want jy word in die veld afgelaai en daar sit en wag jy. Jy moet wakker wees. Wanneer die bokke verby kom het jy ‘n kans, gewoonlik net een kans. En as jy so stilsit in die ope veld in die wintersonnetjie kan dit ook skielik weer warm word. Voordat jy jou sit (lêplek) kry, doen jy alles wat gedoen moet word. Kyk rond, vang ‘n veltie, maak seker vanwaar die bokke gaan kom, kry jou bossie of tak of stomp waaroor jy gaan aanle, kyk rond of jy nie naby ‘n balbyters miernes is nie, ens. En dan neem jy stelling in.

Die dag het ‘n mooi ram baie naby my kom staan. Sommer so uit die niet verskyn. Gladnie daar aangejaag deur die perde nie. Seker 'n uitskop ram. Daar het so n ligte windjie gewaai en ek was perfek onder die wind. Dit is min dat jy so naby ‘n springbok kom. So naby dat jy sy proes kan hoor, ek kon die nat op sy neusgate sien, ek kon sien hoe dit oop en toe beweeg saam met die asemhaling van hierdie pragtige dier. Wat ‘n pragstuk van ‘n dier, en hoe statig staan hy daar. Hoe regop dra die gekromde nek die wakker kop. Die sterk horings glinster soos gepoleerde brons in die skerp sonlig. Sy voorbene is gespierd. Ek verbeel my ek kan sien hoe dit saamtrek. Dis n goeie jaar, die bokke is mooi vet. My oë neem dit alles waar, maar eintlik lê ek hier en wag om die pragtige dier te skiet. Ek vergeet dit amper. My gedagtes hardloop met my. Wonder hoekom ons rugbyspan (die beste span in die land) na die dier vernoem is.

Ek korrel. Die skoot klap, maar niks gebeur nie. Die bok staan steeds daar. Dis asof hy self wonder wat het gebeur. Hy weet nie vanwaar die geluid gekom het nie. Hy proes seenuagtig. Hy kan my nie sien nie en ook nie ruik nie. Ek lê onder die wind. Ek korrel weer. Kyk mooi deur die teleskoop na die pragtige stuk dier. Sjoe, ek het amper nie die moed om te skiet nie. Dan … … …