Besig om te laai .........

PLAAS KINDERS WAS KOSHUIS KINDERS:
Ek het op 6 jarige ouderdom koshuis toe gegaan. Pa en ma kom jou Maandae aflaai, en weer Vrydae oplaai. Ma het my bed opgemaak en my goedjies weggepak. Ons was vier seuntjies in die kamer. Ek dink die ander drie was baie meer boerseuns as ek. Op daardie stadium het ek nie eens geweet hoe briek ‘n mens ‘n windpomp nie. Ek kon wel al alleen met die bakkie op die plaas ry. Ek kon nie ‘n das knoop nie, ook nie my eie skoenveters vasmaak nie. My een kamermaat Albert het my skoenveters vasgemaak en my ander kamermaat Koos het my das geknoop. Dank die Vader dat jy darem naweke huistoe kon gaan. Koshuis lewe was lekker, maar ook nie lekker nie. Jy het verlang na die plaas. Maar nou ja, erens het iemand (wat nie mooi gedink het nie) besluit dat ‘n mens vir 12 jaar moet skoolgaan. Ek kon nooit verstaan hoekom hulle dit juis 12 jaar moes maak nie. Sou vier of vyf jaar nie lank genoeg wees nie.

Bok bok staan styf, vrot eier, wegkruipertjie, cow boys en crooks, klippie skool, albasters, tol gooi, rek spring, kennetjie, bok in die hok, “over”. ens. was die dinge waarmee kinders hulself besig gehou het. Dit was ons televisie programme. Want daar was nie televisie nie. Ook nie so iets soos video’s nie. Die woord rekenaar was nie deel van ons woordeskat nie. Ons het nooit gehoor van sulke goed nie. Daar was nie selfone nie. Ma het my Woensdag aande na ete gebel na die telefoon in die koshuis gang. Daar was twee telefoon hokkies. Jy het gewag vir daardie oproep. Dan het sy gewoonlik vir my gesê: “nog net twee slapies dan kom jy weer plaastoe”.

Alles is met ‘n klok wat lui, aangekondig. Daar was n etensklok. Dan het ons in rye buite die eetsaal gestaan. Die koshuis vader of een van die prefekte het dan die tafelgebed gedoen. As hy AMEN se, dan stap almal ordelik in na die tafel (8 kinders aan ‘n tafel). Die seniors skep eerste. Die tafelhoof moes sorg dat die kleintjies darem ook soms genoeg kry om te eet. Jy het nie gekla nie. Dit was goeie jare.

Na ete was daar ‘n halfuur speeltyd voordat die studie klok gelui het. Van 19h00 tot 20h00 het jy gestudeer. Of jy nou huiswerk gehad het of nie, jy sal in die studiesaal sit en jou besig hou met jou skoolboeke. Dan was daar die Hoerskool kinders wat nog ‘n uur studie moes doen. Daarna kon jy laat studie ook doen. Maar jy moes aansoek doen om dit te doen. Jy kon nie sommer net agterbly nie. Die koshuis het ‘n kofferkamer gehad. Jy moet jou koffer daar bere totdat jy weer inpak om huistoe te gaan. Daar in was ‘n geheime sy sakkie van die dieptste kant sye van jou koffer waar jy jou eetgoedjies weggesteek. Miskien n stukkie droewors of lekkergoed. Maandae middae kon die koshuis kinders dorp toe gaan om inkopies te doen. Om 17h00 moet jy terug wees in die koshuis terein. Die res van die week mag jy glad nie die koshuis terrein verlaat nie, behalwe om sportveld toe te gaan of skooltoe te gaan nie.

Soggens was daar die opstaanklok, dan na ‘n ruk die stiltetyd klok wat ‘n 10 minute stiltetyd aangekondig het waarin jy net op jou stoel in jou kamer mag sit, of by jou bed gekniel het. Dis stiltetyd. Jy moet met die Here praat, of jy moet stilwees dat Hy met jou kan praat. Langpouse by die skool het die koshuiskinders vining teruggegaan koshuis toe om by die kombuis elkeen ‘n toebroodjie te ontvang. Daarmee saam het jy of koeldrank of koffie of tee gekry. Jy moes vining eet en drink, wat as die klok by die skool lui, moet jy in die ry staan vir instap na die klas.

Ons het sport op die radio geluister. Die uitsending het soms so weeeeeeeeeyouuuuuuuuu sssssssssssssssssssssss gemaak, maar dan kom die klanke weer deur dan fokus jy weer. Ek onthou ons sou rugby en boks op die radio luister.

Niks was so lekker soos Vrydae na tweede pouse nie. Dan het jy geweet daar is nog net twee periodes van die week oor. Pa of ma is reeds in die koshuis parkeerterein om jou te kom haal. En op die plaas sal daar soetpampoen, geelrys en kerrie-afval op die tafel wees. Elke Vrydag was dieselfde spyskaart. Ma het ‘n almanak agter die eetkamer deur gehad waarin sy opgeskryf het wie laasweek die harsings gekry het. Ons moes beurte maak omdat al ons kinders daarvan gehou het. Dan is dit naweek. Jy het vryheid en jy is op die plaas. Wat kan lekkerder wees as ‘n karooplaas. Sjoe, die lewe was anders. Dis asof ons nog tyd gemaak het vir mekaar.