Besig om te laai .........

Plaaskinders was Koshuiskinders (deel 2)

Koshuis badkamers was sulke groot groot vertrekke. Wel ek kan net aan die seunskant dit beskryf. Ons het n groot oop area gehad waar daar 10 storte, elk so ‘n meter uitmekaar, uit die muur gekom het met n stort kop. Wel daar was nie meer stort koppe nie, dis net die pyp wat daarbo gebuig is soos ‘n stort kop. Die stort area het nie n deur gehad nie, net so n groot ingang waarin elkeen wat kom stort het, ingestap het. Daar was geen privaatheid nie. Ons het soms n rye gestaan om te stort. Nou kan jy jou net indink hoe lank die warm water gehou het. Die donkie is gestook tot net na 17h00, want dan gaan die werkers huistoe. Die laerskool kinders wat net in die middag n studie uur het, stort eerste in die aande. Teen die tyd dat die St. 8 tot 10 ‘s moet gaan stort, is al die warm water uitgestort.

Dan was daar ‘n paar toilette waarvan jy darem die deure kon toemaak, en twee badkamers waarvan jy ook die deur kon toemaak en sluit, maar die opening onder die deur was so hoog dat enige iemand daaronder kon deurkruip indien nodig. As Sub A seuntjie was dit vir my die vreeslikste om in die nag op te staan en te gaan piepie. Die sub A kamer was heel aan die begin van die gang, die verste van die badkamer ingang af. Daardie lang donker, stil, koue teelvloer gang. Nagmerrie vir enige kind wat net bietjie bietjie bang is. En dan stap jy verby verskeie kamers waarin daar elk 4 seuns le en slaap. Die geluide wat daaruit die kamers kom, van bo en van onder. Dis genoeg om enige 6 jarige die vrees op die lyf te jaag.

Tog het ons in die tyd nog respek vir mekaar gehad. Daar was straf as jy verkeerd gedoen het, en jy het dit gerespekteer. Jy het seniors gerespekteer. Die grootste sondes wat ons gedoen het was kattekwaad soos vrugte steel of om aan deure te klop en weg te hardloop. Ek het een nag met twee ander pelle van die koshuis se tweede vloer afgegly teen die geut. (Vandag se geute sal dit nie hou nie). Ons het besluit ons gaan ‘n hoender steel en ons gaan vannag hoender braai. Mense het groot erwe gehad, en soms duiwehokke en selfs hoenderhokke op die kant van die erf gehad. Ons het ‘n oom se erf binnegaan. Ons het besef die oomblik van diefstal moet vinnnig gebeur, want die hoenders gaan raas. Die oom het net twee klein kef brakkies gehad. Planne het goed uitgewerk. Hoender gegryp, hek weer toegemaak. Hoender in n kussingsloop. Ons is daar weg, buite die dorp in n sloot gaan ons vannag hoender braai. Ons het vuurhoutjies, ‘n flits maar nie hout nie. Hout gaan ons sommer bymekaarmaak daar in die sloot. Ons het ook nie ‘n rooster, of braaitang of enige ordentlike goed waarop ons die hoender kon braai nie. Ons het besluit ons sny dit in stukke en sit dit sommer so in die kole. Die oorspronklike boesmans het ook nie roosters gehad nie. Ons adrenalien vlakke was hoog. Dit was meer net vir die sports as wat ons nou rerig hoender gaan eet. Ons het met iets nie rekening gehou nie. My vriend Piet het die hoender kop afgesny maar die ding nie houvas nie. Die volgende oomblik trek daardie kopaf hoender daar weg en die ding hardloop. Ons is agterna. Deur die bosse, doringbome, die sloot se wal uit. Glo my, ons het n uur lank gesoek na die hoender, ons kon dit nerens kry nie. Ons braai was afgestel tot verdure kennisgewing weens te min vleis. Ha ha.