Besig om te laai .........

PLAASMENSE EN KERK: 
Daar was gewone kerk, dan was daar grootkerk. Sommige naweke is daar spesiale kerk gehou. Dit was dan ‘n voorbereidings diens, dan ‘n nagmaalsdiens en daarna ‘n dankdiens. Met grootkerk het meeste van die plaasmense wat ver van die dorp af bly, kerk toe gekom. Vir ons kinders was dit nie ‘n goeie naweek nie, want na kerk is ons koshuis toe. Dit het beteken dat jy alreeds die Sondag aand in die koshuis moet slaap. Daar was nie baie kinders nie, soms net twee of drie op n Sondag aand. Dit is baie grillerig om in daardie lang gange alleen te wees, jou voetstappe weergalm soos wat die leegheid na jou terugslaan.

Daar was twee keer per jaar dienste in die week, eerste een was in Januarie net na die skole weer begin het, Week van gebed en dan was daar natuurlik Pinkster bidure. Dit was lekker. Want die dienste het altyd 19h00 begin en dis presies wanneer studietyd ook begin in die koshuis. Ons het natuurlik baie eerder kerk toe gegaan. Enige kans om uit die koshuis te kom, het ons gevat.

Dan het die ooms opgestaan as hulle bid. Ons seuns het ‘n speletjie gespeel. Ons het geloer wie staan op, dan sê jy vir die ou langsaan jou hoe gaan die oom sy gebed begin. Ons was klokslag reg. Elke oom het ‘n spesifieke gebed gehad, inleiding, tussen-in het hy dit soms bietjie verander afhangende van hoe erg die droogte is en hoe lanklaas dit gereen het, dan ‘n slot. Elke liewe keer dieselfde. Ai, die liewen Heer moet baie genade met ons hê. Een oom het een aand die Here gedank vir die geluid van die reen wat daarbuite val. Dit was toe nooit reen nie, dit was die orreliste se waaier wat haar koel gewaai het, wat dieselfde as die geluid van reen gemaak het. Buite gekom, was die grond droog soos altyd.

Sondae kerk het baie tradisies gehad. Elke gesin het ook op n spesifieke plek gesit. Die dominee kon dus maklik agter kom wie nie in die kerk is nie, want daardie bank was leeg. Voor ons het altyd ‘n pa en ma met vier dogters gesit. Dit was moeilik, want dit was nog hoed dra jare. Die vrouens het mos uitgehang om te sien wie die mooiste en grandste hoed kan dra. Ons as seuns het dan as ons opgestaan het om n lied te sing, net vining genoeg opgestaan dat jy per ongeluk die meisiekind wat voor jou sit, se hoed vooroor stamp dat dit oor haar oë skuif. Dit was konsternasie want dan was haar hare natuurlik deurmekaar. Pa het ons een Sondag ‘n pak slae belowe as ons by die huis kom. Ons was die res van die diens stroop soet. Ons het selfs gesluister wat die dominee preek daardie dag. ‘n Pragtige preek oor genade en liefde. Ons het daarvan niks gekry na kerk nie. Pa het net tot op die bult gery en toe stilgehou. Hy het sy belt afgehaal en ons n behoorlike pak slae gegee. Net daar in die grondpad. Later jare het hy ons vertel dat hy nie tot op die plaas wou ry nie, want hy was bang hy koel af. Geen wonder hy het niks van die preek oor liefde en genade gehoor nie. Hy was te kwaad vir ons.

Dan was daar natuurlik die wyksbidure op die plase. Elke plaas kry n beurt waar die biduur gehou word. Die wyksouderling het ‘n leesdiens wat hy voorlees. Dan draai ons manne en seuns almal om en kniel voor ons stoele en dan bid al die ooms in volgorde van oudste tot die jongste. Jy moet voor die tyd seker maak wie is teenwoordig en wie nie, dat jy nie voor iemand inval wat ouer as jy is nie. Daarna was dit ‘n ete. Almal eet saam en dan praat niemand oor die preek of die Here nie, dan praat ons net boerdery. Asof die Here dit nie anyway ten volle in Sy beheer het nie.

Op 25 Februarie 1883 was my oupa se oom, Christoffel du Toit in die middag diens wat deur Ds.G.A Scholtz gelei is. Die weerlig het die kerkgebou raakgeslaan terwyl hulle besig was om Psalm 119:17 te sing (die Liewe Heer wou seker maak hulle sing nie al 63 verse nie). Jan Muller, ‘n smid op die dorp, is dood op die plek. Meer as twintig ander is met brandwonde uit die kerk die middag, waarvan Christoffel du Toit een was. Mnr Barend Badenhorst het ernstige brandwonde opgedoen en ander wat ook getref was, is C Koen, mev S.A du Toit en nog ander. Interessant die woorde van vers 17 van Psalm 119 is: 
As ek sien die wetsverlaters 
kom daar skrik in my gemoed, 
en ‘n heilige vuur van ywer 
laat dit opbruis in my bloed.” 
Blykbaar met die sing van die tweede reël “… kom daar skrik in my gemoed” het die weerlig geslaan. Sal ‘n mens nogal laat skrik.

Die kerkgebou is later jare afgebreek aangesien dit te erg gebars het en nie meer veilig was nie. Die nuwe kerkgebou is net onder die koshuis gronde gebou. Dit was te heerlik want gedurende die bouproses was dit in die middae ons cowboys en crooks speelplek. Dit was ‘n wonderlike oorlogstoneel, wat dan juis gebou word om VREDE aan almal te bring. Die feit dat die kerk nou nader aan die koshuis was, het een groot nadeel gehad. Nou het ons baie vinniger na kerk terug by die koshuis gekom.