Besig om te laai .........

Springkane

Op ‘n baie warm dag na ‘n paar lekker reënbuie, hoor ‘n mens in die stilte van die Karoo die geritsel en gesuis. Die klank is vreemd, ongewoon. Dis nie die gewone koeie wat moeee en skape wat blêr nie. Selfs die voeltjies se getjirp is vandag nie so duidelik hoorbaar soos ander dae nie. Daar is iets in die lug wat die gewone stilte op ‘n karooplaas versteur. Dit is geheimsinnig. Wat kon dit wees? Is daar dan iets wat die vrede op ‘n pragtige karooplaas kan steel? Jy loop rondom die plaashuis om te soek wat dit is en waar dit vandaan kom. Aan die eenkant is jy bang, bevrees, beangs want dit is onbekend. Is daar ‘n gasbottel erens besig om af te blaas, of een van die motors of trekkers se bande?. Maar dan moet dit erens mos ophou, en die geluid hou nie op nie, inteendeel, dit word stadig duideliker hoorbaar. Is dit iets in die lug, miskien n vliegtuig met ‘n papwiel of wat in die moeilikheid is? Is daar ‘n pyp wat lek of so iets? Die klank is egter anders. Dan kom jy om die huis en sien die horison is donker. Is dit ‘n veldbrand? Is dit donderwolke? Gewoonlik reën dit makliker as dit eers gereën het. Miskien is dit donderweer. Maar donderweer maak nie die geluid nie. Dis onheilspellend. Dan tref dit jou soos n dolksteek in jou hart. Dis sprinkane. Hordes van hulle, onverskrokke, skynbaar besete van honger. Hulle kom aangesweef soos ‘n reuse mantel wat oor die aarde oopgegooi word. Hulle verslind elke blaartjie, grasspriet, alles in hul pad.

Ai, die reën was so lekker. Dit was so ‘n wonderlike uitkoms na die droogte. En nou dit? Jy wonder hoekom het jy kom boer. Moes jy nie maar eerder ‘n veearts geword het nie? Dan besef jy, jy is ‘n gebore boer. En boer sal jy boer. In goeie tye en in slegte tye. Ons sal vasstaan en saamstaan en deurgaan. Ons sal ook hierdie een te bowe kom met die hulp van die Heer. 
Was dit dan nie juis die 8ste plaag wat Moses aangekondig het voordat Farao die volk Israel laat trek het uit Egipte nie?. Ironies genoeg dat die treksprinkane baie ryk is aan protieiene. Johannes die Doper het hulle geëet en self vandag nog is dit ‘n heerlike gereg as dit reg “gespice” word. Lekker, sappige gebraai¬de sprinkane, vooraf gemarineer in kruiesous! Maak net seker dat jy eers die vlerke, pote en die stekelrige dele verwyder voordat jy dit braai. Vir party mense is hulle tog tot vandag toe ’n heerlike gereg, maar die meeste van ons sterflinge sal stellig nooit aan die idee byt om aan ’n sprinkaan te hap nie. Of sal jy? Gee my maar my A3 karoo skaaptoppie, dankie. In Joël in die Bybel word die verwoesting beskryf wat sprinkane saai: “Voor die koms van die sprinkaanswerm is die veld soos die tuin van Eden; as hy verby is, is dit ’n onbewoonbare woestyn. Hy laat niks oorbly nie.”

My pa het eenkeer ‘n plaas in die Noord Kaap gekoop, in Kenhardt, 400 km wes vanwaar ons geboer het. Ons grond was so 120 km Suid van Kimberley. Net suid van die Oranje rivier naby Hopetown. Nadat my oupa vir ‘n lang ruk geen kommentaar gegee het op my pa se transakie nie, het my pa hom ‘n ruk later rondom die etenstafel gevra: “nou pappa het nog geen kommentaar gelewer oor die plaas wat ek gekoop het nie?” Dit was ‘n stelling, maar ook ‘n vraag. My oupa het so stil gesit, diep gedink, stadiger begin kou aan sy stukkie skaaprib, en almal van ons het geweet, as hy die houding inneem is hy nie positief nie. En dan moet jy luister na wat hy nou gaan sê. Wysheid gaan nou verbaal weergegee word. Sy antwoord aan my pa: “nie eens ‘n sprinkaan trek wes nie” was kort, diep, geen goedkeuring oor die transaksie nie. Nodeloos om te sê, ons het stil verder ons ete geniet (of dalk nie geniet nie).

Dit het my as kind vir die eerste keer laat besef, sprinkaan swerms (altans die wat ek beleef het as kind) trek altyd van die weste na die ooste. Wat die redes daarvoor is, weet nugter alleen. Ek het maar gedink dit is omdat die westewinde altyd waai. Uitsonderlike dae van die jaar, wanneer ons reën verwag, sal die wind oos of noord oos waai. Sprinkaan swerms was groot. Mense dink ons vergroot as ons sê, kilometers lank en breed. Dis asof daar ‘n donker donderwolk voor die son inskuif, wanneer n groot swerm aan die beweeg is. Die statistieke oor swerms is indrukwekkend. Die gewig van ’n groot swerm is al op 15 000 ton geskat en die daaglikse voedselinname is glo gelyk aan dié van 1,5 miljoen mense. Sprinkane trek in digte swerms van tot “80 miljoen sprinkane per vierkante kilometer”. Tog bots hulle nie teen mekaar nie. Wat is hulle geheim? Agter elkeen van die sprinkaan se twee saamgestelde oë is daar ’n bewegingsensitiewe neuron. Wanneer dit lyk of ’n botsing sal plaasvind, stuur hierdie neurone boodskappe na die vlerke en bene, wat die sprinkaan vinnig laat reageer. Trouens, sy reaksie is vyf keer vinniger as ’n oogknip.

Saans het die swerms gaan sit en daar waar hulle sit, is môre niks oor nie. Hulle vreet alles op. Ons het in die nag met bakkies en pompe agterop wat dubbel bennex gespuit het (so n wit poeier), rondgery waar die swerms gesit het om soveel moontlik van hulle dood te maak. Want môre skuif hulle aan na die volgende boer en vreet daar alles in hul pad op.

Sprinkane was nie al wat die goeie reëns gebring het nie, daar was ook nog … … …