Besig om te laai .........

Waters om ry:

Waters omry in die veld is ‘n ervaring. Jy klim af in die sand, maak hekke oop en toe. Dis genesend vir ‘n mens se siel. Die veld, die doringbome, die witgat bome, die sand en die stilte. Die beeste, die springbokke, die skape, die sandveld, die kameelhout bome. Jou siel rus, hek vir hek klim jy af in die sandpadjie en maak jy hulle oop en dank die Here vir gesondheid. Dat ek hier kan wees en dat ek net kan rus. Weg van ‘n telefoon, weg van mense, weg van alles. Net ek en my Skepper. Hier waar ek is. Elke hek is ‘n vreugde. Elke hek het ‘n ander ketting en maak op ‘n ander manier oop. Elke keer as ek uitklim en my voete sak weg in die warm rooi sandveld van die Karoo, dan dank ek die Here. Sommige hekke moet jy fisies optel uit die sand en self dra, dit het nie meer skaniere nie. Dan kyk jy elke keer dat die krip skoon is. Gooi al die water uit met ‘n halwe blik. Hou vas die bolkop (of sit n klip daaronder) dat dit vireers nie weer water inlaat nie. Dan spoel jy dit uit. Water is lewe. Indien jou diere nie skoon drinkwater het nie, kan daar nie lewe wees nie. Rondom die krip kom daar altyd groenigheid op omdat die kripskoonmaak se water daar val in die warm sand.

Dis vriendelike mense die. Boere mense. Mense by wie jy net kan kom as jy bereid is om grondpaaie te ry. Warm harte en warm koffie. Of ons mekaar gister gesien het of lanklaas gesien het, daar is altyd ‘n hartlikheid in hulle groet. Of ons mekaar ken of mekaar nou net ontmoet het, ook vir n vreemdeling is daar hartlikheid. Van die honde tot die ganse op die erf verwelkom jou. En natuurlik al die willde diere wat erens gevang of gered is, dan word hulle mak grootgemaak op die plaaswerf.

Boere mense berus in die wil van God, want daar is anyway niks anders wat hulle kan doen nie. Die natuurelemente word nie deur computers of deur politieke besluite of deur sosiale media bepaal nie. Dis nie in mense hande nie. Saam is ek dankbaar oor hierdie mense se berusting in die wee van die Here. Dit kon so anders wees. Hulle kon so opstandig teenoor die Here wees, maar hulle is nie. Dis grond mense, sand mense. Hulle is lief vir die grond. Hulle het grootgeword in die grond.

Dan in die aand sit ons buite op die stoep. Kyk hoe die son onder gaan. Dit bring verlange in my hart. Dit bring trane in my oë. Dit is ongelooflik. Niemand kan dit in woorde beskryf nie. Die doringbome, die skreeu geluid van die windpomp, die draad, die perde wat daar anderkant hardloop dat die stof op die horison hang, die kalk klippe, die grasveld, die driedorings en dan op die horison, die oranje, rooi, pers, vuurbol. Sy angel is uit, hy is moeg want dit is aan die einde van nog ‘n dag. Hy is ver van ons af, jy kan hom in die oë kyk, sonder dat hy jou oë seermaak. Die son. Ons het al die waters omgery vir die dag.

Aandete is vleis. Vleis van watter aard ookal. Ons as gesin het maklik n skaap op n naweek opgeeet. In die oggend eet ons niertjies en lewer met suursous en uie. Sjoe, op n varsgebakte sny brood. Dis hemels. In die middag word die skaap se blaaie en ribbes in die oond gebak. Lekker bruin en crispy. Vannaand braai ons. Die braaivleis vuur sal altyd brand. Wat is n plaas sonder n braaivleis. Bloeddruk en cholesterol en al daardie “grand” goed wat die dokters van praat is nie nou in ons gedagtes nie. Soetpampoen, aartappelslaai, braaibrood en ‘n heerlike skaap tjoppie op die vuur.

Het jy van hierdie storie gehou?  Besoek gerus vir Welly op sy Facebook blad by Welly Facebook